Toyota Innibos vier vanjaar die Laeveld se eie sterre

Toyota Innibos wys vanjaar weer hoe lekker local kan wees, met bykans ’n derde van die kuierverhoog-kunstenaars uit eie bodem.

by | May 11, 2026 | 0 comments

“Ons is ongelooflik trots daarop dat soveel van ons eie Laeveldse talent nasionaal naam maak, maar steeds hul wortels hier by Innibos kom vier. Dit gee die fees ’n egte, hartlike karakter wat jy nêrens anders kry nie,” sê Adelene Niehaus, wat die kunstenaarskakeling van Innibos behartig.

Op die Cell C- en kykNET-verhoë klop die musikale hart van die fees byna net so hard soos op die hoofverhoë. 

LEES OOK: Graskop Gorge Lift Co earns silver at WTM Africa Responsible Tourism Awards

Toyota Innibos
Die plaaslike DJ-duo BassBroers sal Donderdagaand op die Cell C-verhoog te sien wees.

Kunstenaars soos Ian Roberts, ’n egte Laevelder en voorsanger van die Radio Kalahari Orkes, deel die verhoog met ander groot gunstelinge. Die kykNET Country Konsert op Vrydag, 3 Julie, spog met kunstenaars soos Franja du Plessis, Armand Hofmeyr én ons eie Pieter Rischmüller van die Laeveld.

Alternatiewe klanke kry ook hul plek met plaaslike rocker Coenie Naudé en kletsrymer Ruan Bester, ook van die Laeveld, terwyl kunstenaars Kris Ray en Tiffany Steyn wys hoekom plaaslik regtig IN is.

Na die hoofverhoogkonserte is daar nog die Cell C-verhoog om na uit te sien. Donderdagaand sluit die plaaslike DJ-duo BassBroers van Nelspruit/Mbombela die aand af met egte Laeveldse energie. Vrydag is dit Brendan Peyper se beurt, en Saterdagaand vat local-is-lekker DJ Jaydon Mark oor met ’n vertoning wat die skare op hul voete sal hou.

LEES OOK: From cliff to kloof – the Kaapschehoop Klein Camino 


By die Mopani-verhoog in die Wingerd Kuiertuin ontmoet leefstyl en musiek mekaar. Die daaglikse leefstyl-uur – aangebied deur Nelspruiter Jacques Lombard saam met gaskunstenaars soos Wynand van Vollenstee, Matie van Graan, Dené Lindeque-Fouché, Marinda Engelbrecht en Thiart Li – beloof ’n unieke ervaring van styl, smaak en vermaak te wees. Thapelo Lekoane, Mathew Gold, Wanda Zonke, Bia, en Plain Jane gaan ook die Laeveld se naam hoog hou met hul optredes. 

By die Laevelder Boma kuierteater bied Nelspruiter Riaan Loubser se mentalis-vertoning, Uitgevang, ook goeie inhoud.

“Ons is ook trots op die teater-safari wat enig in sy soort is en verskeie plaaslike talent planke toe bring. Pampelmoesmampoer spog met Nelspruiters Francois Jacobs, Adriaan van As, Jana Fischer, Eugené en Luka Wait. Hulle deel die verhoog met bekendes soos Matie van Graan, Tiaan Slabbert, Steffie le Roux, en ’n misterieuse gasverskyning,” sê Adelene.

Klassieke liefhebbers kan uitsien na die Laeveldse tenoor Walter Fourie en plaaslike pianis Janette Rottcher in die produksie Koffie Kantata.

Stories kry ook lewe met Laevelder Tian Schutte se leefstyl-aanbieding, Spoorlynsabotasies tydens die Boere- en Bosoorlog, en Jarik Jansen en Francois le Roux van Komati Fruit gaan in hul leefstylproduksie ’n ware plaaservaring bied.

Toyota Innibos
Local-is-lekker DJ Jaydon Mark.

By die Woelwaters kan die jongspan uitsien na pure towerkrag met Nelspruiter David Dee, terwyl Jessica Hattingh en Ronnie die Renoster kinders laat sing en leer. By ATKV-Storiebos gaan stories lewendig word te danke aan Corlani Breyl, kleuterskool-eienaar van WilleTuin in Nelspruit. 

Die ATKV-Boeke-oase is dié plek om te ontspan en kos vir die siel te kry. Hier kan feesgangers heeldag rustig saam gesels, kuier, boeke-koop en luister. Plaaslike gesprekleiers soos Sanett Oosthuizen, Annemarie van der Walt, Izak du Plessis en Hancu Louw gaan gesprekke voer met skrywers soos Pieter Mulder, Mike Bolhuis, François Bloemhof en Jak de Priester.

Met 52 kunstenaars op die program, waarvan ongeveer 20 uit Mbombela, Nelspruit, Lydenburg en die res van die Laeveld kom, bewys Innibos dat wêreldklas vermaak reg voor jou deur gebeur.

“Innibos 2026 is nie net ’n fees nie, dit is ’n viering van gemeenskap, kreatiwiteit en trots. Hier is local is lekker nie net in kaartjieverkope nie, dis ’n plaaslike viering van wêreldklas talent,” sê Adelene.

Toyota Innibos vind vanjaar van 2 tot 5 Julie op die terrein van Hoërskool Bergvlam plaas. Kaartjies vir Donderdag kos R250, Vrydag kos R325 en Saterdag R385. Weekkaartjies kos R775. Senior burgers kan kaartjies vir die Donderdag koop vir R195. Kleuters en laerskoolkinders kwalifiseer vir gratis toegang.

Vir kaartjieverkope en meer inligting, besoek www.innibos.co.za.

Our Picks

Browse categories

We are social

– Advertisement –