Fiksie bly egter nie agter nie en die Karoo se melktertbakker en aweregse speurder Tannie Maria bring haar skrywer Sally Andrew uiteindelik Laeveld toe met die nuutste misterie wat opgelos word in Wild things never die.
Die ATKV begin die naweek op Donderdag, 27 Augustus, met ’n poësiewerkwinkel vir volwassenes. Dit word aangebied deur Tom Dreyer en Jennifer Pape. Kontak Ronel Grundlingh by ronelg@atkv.org.za vir besprekings. Kaartjies kos R300 per persoon en sluit ’n ligte middag ete in.
LEES OOK: From cliff to kloof – the Kaapschehoop Klein Camino


Vrydagoggend, 28 Augustus, skop die boekprogram om 9:30 af in die kapel langs die Nagkantoor Kuierkroeg. Die ganse Vrydagprogram word gewy aan nie-fiksie met opspraakwekkende boeke soos Zama Zama: Inside the illicit mining underworld deur Graham Coetzee en die eerste bekendstelling van Chris Marnewick se Oscar Pistorius: The BIG Lie and the right to a fair trial. In dié boek neem Marnewick verskeie leemtes in die hofprosedures van die Pistorius-saak onder die loep. Joernalis Jana van der Merwe, wat volledig verslag gedoen het oor die hofsaak, sal die gesprek lei.
LEES OOK: Popular Night of a Thousand Stars returns in style – myLowveld.net
Diegene wat dr. Pieter Mulder se lekker gesels oor sy boek Parlementpraatjies tydens Innibos vanjaar misgeloop het, het weer ’n kans en dié keer bring hy skyfies saam om sy stories te belig.
Geskiedenis is oud-joernalis Albé Grobbelaar se kos. RSG-luisteraars ken reeds Historiese almanak: Onthou jy nog? en kan lekker kom saamgesels. Op versoek van Mpumalanga Erfenis word Carel van der Merwe se boek Kansvatter oor die eksentrieke Ben Viljoen se vreemde lewensverloop weer in die kollig geplaas in ’n gesprek tussen Van der Merwe en Marius Bakkes.


Sally Andrew is Saterdagoggend om 10:00 eerste aan die beurt om meer te verklap van Tannie Maria se nuutste speuravontuur, en ook oor hoe dié nimlike karakter tot ’n internasionale film gelei het.
Debbie Loots (Die vrou met nege lewens) en Carel van der Merwe (Die Serwiër) gesels albei met Susan Booyens oor hul uiteenlopende boeke, terwyl Jean Cooper (Waar die teerpad ophou) kom vertel oor sy lang motorfietsreis deur Afrika … en na binne.
Dit is “Vatso!” wanneer digters woord en wederwoord met mekaar deel in ’n gesprek oor en voorlesing van hul gedigte. Kom luister na die spitsvondige drietal: Hertzogpryswenner Tom Dreyer (Brief op veertigduisend voet), Jennifer Pape (Waar eens ’n see was) en Muller Minnaar (Die langste jaar ooit).
Ná al die luister en kuiers kan diegene wat die berglug wil geniet Sondagoggend om 10:00 saam met Annemarie van der Walt gaan stap. Om 15:30 tot 17:00 bied Mia en Hancu Louw van die Kaapschehoop Klein Camino ’n kort en kragtige fotografiekursus aan oor hoe om beter foto’s te neem met jou selfoon. ’n Goeie manier om die naweek in die goue ure af te sluit.
Kaartjies is binnekort te koop op TicketPro of by die deur (slegs kaarttransaksies).

















