Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees kondig nuwe hoofborg aan

Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees het so pas Toyota Suid-Afrika as sy nuwe hoofborg aangekondig.

by | Apr 9, 2025 | 0 comments

Dié vennootskap is meer as net ’n samewerking – dit is ’n samekoms van gedeelde waardes, ’n passie vir kultuur en ’n liefde vir lekker dinge.

Toyota staan vir betroubaarheid, deursettingsvermoë en ’n toekomsgerigte benadering – waardes wat hand-aan-hand loop met die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees se strewe om kuns en kultuur te bevorder. 

“Toyota Suid-Afrika se betrokkenheid by Innibos is ’n bewys van hul verbintenis tot die mense van hierdie land en hul kultuur,” sê Andy Lubbe, direkteur en feesbestuurder van Innibos. “Hulle verstaan dat ’n familiefees soos dié nie net oor vermaak gaan nie, maar oor ’n gevoel van gemeenskap, ’n tuiste vir die kunste en ’n plek waar herinneringe gebou word.” 

LEES OOK: Laeveld skud sy vere reg vir Innibos se propvol toneel- en musiekprogram

Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees
Van links na regs: Andy Lubbe: Innibos-feesbestuurder; Phathu Padiachy: Toyota se senior bestuurder vir borgskappe; Amahle Maqubela: Toyota se assistentbestuurder vir bemarking en promosies; en Sandra Jacobs: Innibos se media- en bemarkingsdirekteur.

Toyota Suid-Afrika se betrokkenheid by die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees is ’n bewys van hul verbintenis tot die mense van hierdie land en hul kultuur. Andy Lubbe, direkteur en feesbestuurder van Innibos

Innibos was nog nooit vir sy mense net nóg ‘n fees nie – dis ’n viering van wat dit beteken om die lekker van die lewe te beleef. Dis musiek, kuns, boeke, teater, stalletjies, en vermaak vir oud en jonk.

Innibos se tema dié jaar is “LEKKER” want, dis is ’n fees vir lekker mense, en lekker mense hou van lekker dinge… soos ’n goeie voertuig. Dit maak Toyota en Innibos natuurlike pasmaats. 

Leon Theron, senior vise-president van bemarking by Toyota Suid Afrika, sê, “Met ’n trotse erfenis van meer as 60 jaar in Suid-Afrika, het Toyota ’n integrale deel van vele gesinne se reis geword. As ’n familiegerigte handelsmerk is ons opgewonde om die hoofborg van die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees te wees. Deur Innibos te ondersteun, wil ons ’n betekenisvolle bydrae lewer tot die kulturele lewenskrag en ekonomiese vooruitgang van die Laeveld. Net soos Innibos, verstaan en waardeer ons die krag van gemeenskap en die blywende impak daarvan. Ons sien uit daarna om vanjaar lekker saam met feesgangers te kuier en fees te vier!”

As ’n familiegerigte handelsmerk is ons opgewonde om die hoofborg van die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees te wees. Leon Theron, Toyota Suid-Afrika

Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees is ’n belangrike ekonomiese dryfkrag vir die Laeveld en omliggende gebiede. Die fees bring nie net kunstenaars en feesgangers bymekaar nie, maar ook entrepreneurs, plaaslike ondernemings en toerisme en sorg vir ’n jaarlikse ekonomiese inspuiting van bykans R80 miljoen vir die plaaslike ekonomie.  

“Elke borg is vir ons baie belangrik. Ons verstaan dat ’n fees van hierdie omvang net moontlik is met die ondersteuning van maatskappye wat glo in wat ons doen,” sê Lubbe. “Toyota is een van daardie maatskappye, en ons sien uit daarna om saam ’n fees aan te bied wat ons kulturele rykdom vier.” 

Met hierdie vennootskap word een ding duidelik: Dis nie net ’n bakkie nie, dis ’n Hilux. Dis nie net ’n fees nie, dis Innibos! 

Kaartjies vir die Innibos-feesterrein, waar die ikoniese feesterreinkonserte elke aand plaasvind, is reeds op Ticketpro beskikbaar.Vir meer inligting en besprekings, besoek www.innibos.co.za of Ticketpro.

Our Picks

Browse categories

We are social

– Advertisement –