“Die produksieprogram is nou reeds beskikbaar op Innibos se webwerf, so maak solank gereed vir wanneer kaartjieverkope op 28 April begin,” sê Philna Scholtz, die fees se programbestuurder.
Toneelstukke wat harte gaan raak
Innibos bied vanjaar ʼn verhoogprogram propvol talent en treffende produksies.
Speelgoed van Glas, ʼn nuwe vertaling van Tennessee Williams se The Glass Menagerie, beloof om gehore te roer met sy fyn verweefde temas van verlange, liefde en verlies. Met ʼn sterbelaaide rolverdeling, insluitend Anna-Mart van der Merwe en Carla Smith, is dié produksie ʼn móét-sien.
“Op ’n ligter noot bring die splinternuwe komedie Kry vir jou ’n tux, Thomas met Marion Holm en Dean-John Smith hope lag, nostalgie én trane na die verhoog,” sê sy.
“Vir diegene wat hou van ʼn verhaal met geskiedkundige en persoonlike diepte, bied Seun, gebaseer op skrywer Dana Snyman se ervarings, ʼn introspektiewe reis deur die 1980s en die vrae wat daardie era ontlok het.
Komedie wat die lagspiere gaan toets
Kampavonture loop dik in die humoristiese Geagte Kampeerders, waarin Wynand van Vollenstee ʼn tipiese Desember-kamp op ’n komiese wyse uitbeeld.
Moord met ’n T met die immergewilde Tobie Cronje bied ʼn moordraaisel met hope humor – en ʼn tikkie spanning!
Philna brei ook uit oor ander toneelstukke.
“Vir dié wat ʼn eg Suid-Afrikaanse karakter wil beleef: Ouma is op pad met Margit Meyer-Rödenbeck beloof ʼn humoristiese blik op hoe ʼn boervrou haar plek in ʼn moderne wêreld moet vind.”
LEES OOK: Innibos se bemarkings- en mediaspan kry ’n entoesiastiese nuwe lid
Musiek wat die siel voed
Musiek bly ʼn onmisbare deel van die fees-ervaring en vanjaar bring die fees ʼn pragtige sameloop van klassieke en kontemporêre musiek.
“Opera-Tango, met die betowerende Zanne Stapelberg en Albie van Schalkwyk, neem gehore op ʼn reis van vurige Spaanse Zarzuelas en klassieke operaklanke.
“Vir ʼn nostalgiese viering van Afrikaanse musiek, eer Gé Sing – Hoor my lied die ikoniese Gé Korsten, met kunstenaars soos André Schwartz en Louis Loock wat sy tydlose treffers weer laat lewe.
En natuurlik, vir die manne wat hou van ʼn bietjie rock ’n roll, is daar Die beste band in die wêreld ooit, ek sweer! waar Ricus de Beer en Ryno Velvet sorg vir ʼn jol soos geen ander nie!”
LEES OOK: A LEKKER cherry on the Innibos cake
Kaartjies vir die Innibos-feesterrein, waar die ikoniese feesterreinkonserte elke aand plaasvind, is reeds op Ticketpro beskikbaar.Vir meer inligting en besprekings, besoek www.innibos.co.za of Ticketpro.