Innibos se bemarkings- en mediaspan kry ’n entoesiastiese nuwe lid

Die Innibos-familie het onlangs uitgebrei en daar is ’n nuwe lid van die bemarkings- en mediaspan.

by | Mar 7, 2025 | 0 comments

Naranda Leeuwner, ’n bekende Laevelder wat onder andere betrokke was by die Laevelder, Kishugu en die Laeveld Lugskou, het haar onlangs by die span aangesluit en is baie opgewonde oor die nuwe uitdaging, veral oor die geleentheid om saam met Sandra Jacobs, die ander lid van die bemarkingspan, te werk.

Sandra se fokus verskuif en sy sal meer konsentreer op die verkryging van borgskappe.

Vir Naranda, wat na Sandra verwys as haar “celebrity crush”, is haar nuwe rol ’n geweldige voorreg en ’n droomgeleentheid.

Ons moet meer betrokke raak by ons feesgangers en leer waarvan hulle hou. Ons moet as’t ware vriende maak met hulle.

Naranda Leeuwner

“Toe Sandra vir my die werk aangebied het was my antwoord dadelik ja. Sy het die Innibos-fees gebou tot waar dit vandag is en dit is so ’n groot eer om saam met haar te kan werk en by haar te kan leer,” sê sy.

Die plan is dat sy vir vanjaar saam met Sandra werk en kyk hoe dinge gedoen word voordat sy ’n groter rol in die bemarking van Innibos begin speel.

Naranda sê dat sy nog altyd ’n baie getroue feesganger was en elke jaar soveel tyd op die Innibos-feesterrein deurgebring het as wat sy moontlik kon.

“Maar ek was nog altyd aan die plesierkant van die fees. Nou moet ek leer hoe die fees agter die skerms werk. Ek was al vantevore by groot geleentehede, soos die Laeveldse lugskou, betrokke, maar elke geleentheid is anders en ek besef ek het baie om te leer,” sê sy.

Sy voorsien dat Innibos se media en bemarking meer en meer digitaal sal word en al minder van tradisionele bemarkingsmetodes gebruik sal maak.

“Ons moet meer betrokke raak by ons feesgangers en leer waarvan hulle hou. Ons moet as’t ware vriende maak met hulle. Ons moet in hulle harte inklim. En dan moet ons met nuwe oë na bemarking kyk. Ek dink ons sal in die toekoms baie meer van sosiale-media persoonlikhede, smaakmakers en kunstenaars gebruik maak om ons fees te bemark,” sê sy.

Naranda sê dat een van die dinge wat sy die meeste geniet van Innibos is die diversiteit van die fees. Sy geniet ook die toneelstukke, die rondloop op die feesterrein, die wonderlike atmosfeer wat daar heers, en die musiek wat speel.

“Dan moet ek natuurlik elke jaar ten minste een keer ’n roosterkoek koop,” sê sy.

“Moenie elke sent omdraai nie. Onthou, dis net drie dae van die jaar. Bring jou vriende en familie en kom vier fees!

Naranda Leeuwner

Sy sê sy glo dat 2025 ’n jaar van rekords gaan wees.

“Ons gaan vanjaar uit ons nate bars en vir feesgangers ’n fees der feeste aanbied. Dit is immers óns fees. My droom is dat elke Laevelder eienaarskap moet neem van Innibos en trots wees op die fees.”

Sy moedig almal aan om vanjaar se Innibos by te woon.

“Moenie elke sent omdraai nie. Onthou, dis net drie dae van die jaar. Bring jou vriende en familie en kom vier fees!”

Our Picks

Browse categories

We are social

– Advertisement –