Thursday, 18 April, 2024

|

NHS se atletieksterre eindig die seisoen met nog vyf nasionale medaljes

Atletiek Suid-Afrika se nasionale kampioenskappe vir atlete onder 16, 18 en 20 het vanjaar in Potchefstroom plaasgevind.

Hooffoto: Ashley Erasmus en mnr. DP Badenhorst

Die standaard van die kompetisie, wat van 31 Maart tot 2 April plaasgevind het, was veel hoër as by die onlangse SA Skole-byeenkoms, omdat studente wat nog onder 20 is, ook kon deelneem.

Die Laevelders het hul stemme behoorlik dik gemaak en sewe van die 13 medaljes wat Mpumalanga verower het, is gewen deur atlete wat smiddae op NHS se baan en veld onder die wakende oë van die plaaslike afrigters geoefen het.

Hoërskool Nelspruit se bydrae was ’n volle handvol van vyf individuele medaljes: twee goud, twee silwer en een brons.

Ashley Erasmus (m.18) het sekerlik met benoude oë die weer dopgehou, want haar twee eindrondes, in gewigstoot en skyfwerp, was vir die derde dag van die kompetisie geskeduleer – toe die voorafgaande twee dae se mooi weerstoestande, ineens in ’n nagmerrie van wind en reën verander het.

Maar, Ashley het weer gewys dat sy, benewens unieke talent en hope dryfkrag, ook met ’n sonderlinge wenners-temperament geseën is en het haar nie deur eksterne faktore van stryk laat bring nie.

Sy behaal weer die goue tweekuns deur haar twee items met puik afstande van 18,15m (gewig) en 51,77m (skyf) te wen – beide weer met ’n voltal van 1 000 ASA-punte.

Handre van der Merwe en mnr. Jaco van der Merwe

Haar skyfwerp-afstand maak Ashley die eerste meisie in die Laeveld se geskiedenis wat verder as 50m kon gooi, en het haar vorige beste van 49,41m by vanjaar se Laeveld-interhoër verpletter. Volgens die IAAF se jongste internasionale ranglyste, beklee Ashley die nommer-een posisie in gewigstoot en nommer twee in skyfwerp.

Ook Shanese de Clerck (m.18) moes in hoog- en verspring teen sterk mededingers én die elemente baklei. In uiters ongunstige, nat toestande, het beide Shanese en Gauteng-Noord se Mia Janse van Rensburg op 1,70m (850 punte) geslaag, maar Mia is eerste geplaas omdat sy die lat een keer minder afgespring het. Shanese was later sesde in verspring (5,49m). Rob Ferreira se Caitlin Dehrman het weer stewig vertoon, en vyfde (1,65m) geëindig.

Handré van der Merwe (s.20) het sy prestasie by die Skole-kampioenskappe, toe hy silwer in die 400m hekkies gewen het, herhaal – dié keer met ‘n nuwe persoonlike beste van 52,82 sek. Hy was vyfde in die 110m hekkies in ’n mooi tyd van 14:43.

Sheba Sithole (m.16) is te midde van uiters strawwe kompetisie in die 1 500m met ’n bronsmedalje beloon toe sy die eindwedloop in 4:43,17 voltooi het. Daarmee het Sheba ook met Jessica Berry se Nellie-rekord van 2016 , wat op 4:49,08 gestaan het, klaargespeel. Toe sy in die 800m haar uitdun in ’n pragtyd van 2:16,99 wen, is sy as ’n gevaarlike buiteperd beskryf, maar haar tyd van 2:22,53 was daar nie goed genoeg vir ’n medalje nie.

Na vanjaar se SA’s, kyk die universiteite se atletiekadministrateurs seker met verlangende oë na Rhodé Nel.

Hierdie blitsige Nellie het in Potchefstroom begin deur haar uitdun in die 100m (m.20) in ’n vinnige 12,09sek te wen. In die finaal is Rhodé vierde geplaas, al was haar tyd van 12,01 (896) dieselfde as die wenner van die bronsmedalje s’n. Daarmee het sy haar eie Nellie-rekord van 12,07 in die stof laat byt.

Die Saterdag het Rhodé die 200m – in haar uitdun – in 24,98  afgeblits. Wéér moes sy egter met ’n vierde plek in die eindronde tevrede wees toe sy haar eie Nellie-rekord en persoonlike beste van 24,82  geëwenaar het.

Afrigter mnr. Jaco van der Merwe se ander hekkies-yster wat in Potchefstroom in aksie was, Marco Capazorio (s.20), het ’n baie goeie vierde plek in sy uitdun van die 400m hekkies behaal, en sy tyd van 54,35 het hom ook vir die eindronde laat kwalifiseer.

Marco kon ongelukkig net sewende (56,63 sek.) eindig. Sy tyd in een van die 110m hekkies se uitdunne was 14,71 sek.

Afrigters presteer ook

Hoërskool Nelspruit is met reg ook baie trots op twee verdere prestasies wat deur NHS-afrigters behaal is. Mnr. DP Badenhorst en sy helpers het die talentvolle oud-Robbie, Connor Barnes (s.20) vir die spiesgooi-kompetisie gebrei. Connor het vir nog ’n goue medalje vir Mpumalanga ingeoes toe hy die 800g-spies op ’n uitstekende 69,40m laat grondvat het.

Onder die bekwame afrigting van mnr. Charl en mev. Marthie Naudé, het Zanele Sehohle (m.20) verras toe sy die bronsmedalje in die 1 500m voor die neuse van meer bekende atlete met ‘n tyd van 4:45,39 weggeraap het.

2 comments

Leave a Reply