Nelspruit ma skryf boek oor haar ‘liefste MJ’
Vir Adri Erasmus is die boek oor haar seuntjie, MJ, wat onlangs gepubliseer is ’n droom wat waar geword het.
Die naam van die boek is baie gepas: My liefste MJ.
MJ is op 2 September 2020 in Mediclinic Nelspruit gebore met ernstige defekte en is na net agt maande, op 15 Mei 2021, oorlede.
Voor sy geboorte is MJ met klompvoetjies gediagnoseer en dadelik na sy geboorte het verdere komplikasies met sy stryd om op sy eie asem te haal weens longontsteking en hartversaking begin.
Na verdere toetse is MJ later met agenesie van die corpus callossum asook kraniosinostose gediagnoseer, wat beteken dat hy nooit op sy eie sou kon asemhaal nie en dat sy brein nooit verder as dié van ’n pasgebore baba sou ontwikkel nie.
Die gesin moes vrede maak met die feit dat MJ nie lank sou leef nie.
Vir die kort tyd wat hy gelewe het, het die gemeenskap van die Laeveld die gesin gedra – en saam met hulle gehuil, gebid, gehoop en gejuig elke keer as daar goeie nuus was.
Vir Adri en Marius, MJ se pa, is dit belangrik dat MJ nooit vergeet word nie en dat mense sy storie moet ken.
“MJ staan vir Marius Johannes, my man se name. Hoe bitterlik seer moet dit nie vir hom wees om te weet sy naam het saam met sy geliefde seuntjie gesterf nie? Al sou ons weer geseën wees met ’n babaseuntjie, sal dit nooit weer dieselfde wees nie. Daar sal nooit weer ’n MJ wees nie.
“Dit het my twee jaar geneem voordat ek MJ se boek in my hande kon vashou. Dit het ou wonde oopgekrap maar ter selfder tyd was ek dankbaar dat MJ se storie nou vertel kan word,” sê Adri.
Sy sê die verlange word nooit minder nie; ’n mens leer net om beter daarmee saam te leef.’
“Ek dink nie ek sal ooit oor sy dood kom nie, maar ek probeer elke dag my bes om beter te wees. Kersfees en verjaarsdae, wanneer die familie bymekaar is, is altyd die moeilikste. Hy sal altyd op daardie dae die skakeltjie wees wat gemis word.”
Met Adri, Marius en Ousus Miecke gaan dit goed. MJ is deel van hul lewens en hulle praat maklik oor hom. Hulle het hul lewens aangepas en al is die seer nog daar, probeer hulle om elke dag voluit te lewe.
“Ons onthou steeds sy veggees en hoe hy nooit opgehou baklei het nie,” sê Adri.
Om MJ se lewe te herdenk doen die Erasmus-gesin elke jaar op sy verjaarsdag iets vir minderbevoorregte kinders.
Op sy eerste verjaarsdag het die gesin saam met Pediatric Care Africa en lede van die Laeveldse gemeenskap ’n partytjie gehou vir die kinders in die Katoen informele nedersetting tussen Nelspruit en Witrivier. Die 28 kinders is bederf met ’n koek, oliebolle, ’n springkasteel en vermaak deur Zippy die Nar. Elke kind het ook ’n badkamersakkie met toiletware, ’n lekkergoedsakkie en ’n geskenk ontvang wat spesiaal volgens elkeen se ouderdom gekies is.
MJ se tweede verjaarsdag is herdenk met ’n partytjie vir die 55 kinders in Rob Ferreira-hospitaal se kindersaal.
En weer het die gemeenskap bymekaar gekom vir klein MJ.
Die reaksie van individue en organisasies was oorweldigend. Twee bakkievragte kos, koek, koeldrank, lekkergoed en speelgoed is vir die partytjie aangery.
Daar was ook skenkings van toiletware en doeke.
Zippy die Nar is bygestaan deur Mr Canary van Canary Walk. Saam het die twee gesorg vir ’n dag wat die kinders nooit sal vergeet nie.
Verlede jaar is MJ se verjaarsdag gevier met ’n partytjie by Huis Betlehem in Nelspruit.
By elke viering van sy seun se verjaarsdag het Marius van die geleentheid gebruik gemaak om die storie van sy seun te vertel om seker te maak dat klein MJ bly voortleef in die harte van die gemeenskap wat soveel vir hom omgegee het tydens sy kort lewe.
* Die boek an by Adri bestel word teen R150. Kontak haar op 072 855 8538.