Monday, 6 February, 2023

|

LMSi praat met Nellies oor motorfiets- en padveiligheid

Lede van die Lowveld Motorcycle Safety Initiative (LMSi) het Hoërskool Nelspruit se eerste saalbyeenkoms van die kwartaal bygewoon om met leerders te gesels oor motorfiets- en padveiligheid.

Die LMSi-veiligheidsveldtog se doelwit is om die paaie veiliger te maak vir motorfietsryers – maar ook vir ander padgebruikers.

Die eregas by die saalopening was Johvan de Lange, wat drie maande gelede van sy bromponie afgery is toe hy op pad skool toe was. Sy herstel na erge beserings is ’n inspirasie vir sy vriende – en vir LMSi. 

Johan du Plessis, voorsitter van LMSi, het aan Johvan LMSi-erelidmaatskap oorhandig.

Réhann Coetzee, ondervoorsitter van die veldtog, het die leerders toegespreek.

“Daar sterf jaarliks ongeveer 14 000 mense op ons paaie,” sê Coetzee. “Dit beteken daar gaan maandeliks gemiddeld soveel mense op ons paaie dood as wat daar leerders in NHS is. En ongeveer 40% van hierdie sterftes is voetgangers. Ons is almal padgebruikers – of jy nou self ’n voertuig bestuur en of jy net ’n voetganger is wat ’n straat oorsteek. Daarom moet ons oor padveiligheid praat.”

Maar die boodskap was nie net somber nie.

Réhann Coetzee, ondervoorsitter, en Johan du Plessis, voorsitter van LMSi.

Coetzee sê daar is drie goue verkeersreëls vir almal – maar ook ’n vierde een vir motorfietsryers.

“Die eerste reël is om links te hou en regs verby te steek. Die tweede is om toe te gee aan verkeer wat van regs af kom – soos by ’n verkeersirkel. Die derde een is om jou beplande aksie duidelik te maak voor jy dit uitvoer: skakel die flikkerlig aan voor jy draai – nie na jy begin draai het nie.

“Die vierde goue reël vir ons is ATGATT. Dis ’n akroniem vir All The Gear All The Time. Dit beteken jy moet net motorfiets ry as jy die regte beskermende drag aan het. Dit begin met ’n behoorlike valhelm wat jou hele kop en gesig bedek. Daar is geen wettige valhelms wat soos ’n poedingbakkie lyk nie.

Johan du Plessis demonstreer wat bedoel word met “ATGATT”.

“Handskoene moet behoorlike beskerming bied aan jou vingers, jou kneukels en ook jou handpalms.

“’n Baadjie is nie net daar om jou warm te hou nie – veral nie hier in die warm Laeveld nie. ’n Behoorlike baadjie sal jou beskerm teen die impak van ’n val, met ekstra beskerming vir die rug, skouers en elmboë.

“Dra ’n behoorlike rybroek wat ook teen impak beskerm met ekstra beskerming vir jou knieë en jou heupe. En, net soos ’n baadjie, behoort dit van ’n materiaal soos Cordura gemaak te wees, wat die ryer sal laat gly oor die pad sonder om te skeur.

“Stewels beskerm nie net jou voete nie, maar ook jou enkels.”
Coetzee sê dis veral moeilik om leerders op motorfietse te oortuig om in effek warmer aan te trek, veral in die Laeveld.

“Ons is hier om vir julle die regte manier te verduidelik. Moenie ‘per ongeluk’ leer wat die beste sal wees nie.”

Ter afsluiting het Coetzee die leerders uitgenooi om met LMSi in aanraking te kom.

“Kom gesels met ons oor veiligheid. Saam met ons opleidingsvennoot, Kishugu Training, kan ons jou leer motorfiets ry, of help met voorbereiding vir jou K53-lisensie, of verdere ry-opleiding verskaf.

“Ons het vennootskappe vir padveiligheid met die plaaslike motorfietsbedryf en ons kan aan julle aanbeveel om met hierdie vennote te gaan gesels.”

Verteenwoordigers van BMW Motorrad Mbombela en Freedom Motorcycles het LMSi vergesel na NHS toe.

“Ons wil graag meer mense op motorfietse sien, maar ons wil veilige motorfietsryers hê. Dit is in ons almal se belang.”

Réhann Coetzee

Coetzee het die skoolhoof, mnr. Johan Hattingh, en sy kollegas bedank vir die geleentheid om die skool te kon toespreek.

Vir meer inligting oor LMSi, gaan kyk na hulle Facebook-blad [https://web.facebook.com/lowveldsafety] of stuur ’n e-pos aan johan.duplessis@lmsi.co.za.

Leave a Reply