LMSi gesels oor padveiligheid by Laerskool Laeveld
Tien lede van LMSi, die Laeveldse Motorfietsveiligheidsinisiatief, het Dinsdag by Laerskool Laeveld ingeloer om met die grondslagfaseleerders te gesels oor padveiligheid.
“Alhoewel hierdie leerders nog te jonk is om motorfiets te ry of motor te bestuur, voel ons kinders behoort so jonk as moontlik bewus gemaak moet word van padveiligheid,” sê Johan du Plessis, voorsitter van LMSi.

“En selfs al gaan hulle nie oor agt jaar motorfiets ry nie, is die kans baie goed dat hulle gaan ’n motor gaan bestuur. Hopelik sal hulle dan onthou wat ons hulle vandag geleer het.”
Hy sê in die 1980s het die destydse Nasionale Verkeersveiligheidsraad die karakter Daantjie Kat gehad wat spesifiek laerskoolkinders geteiken het met ’n padveiligheidveldtog.
“Maar ongelukkig is daar nie meer ’n Daantjie Kat nie en dit lyk ook nie of padveiligheid deel uitmaak van skole se lewensoriënteringsleerplan nie. Sowat 40% van alle padsterftes is voetgangers. Dit is duidelik dat padveiligheid baie vroeg al deel van ’n kind se opvoeding moet wees,” sê Du Plessis.
Die LMSi-lede het met hulle motorfietse om die atletiekbaan gery en die leerders het hulle op die pawiljoen ingewag.


Du Plessis sê dat alhoewel ’n motorfietsryer heelwat meer blootgestel is as ’n insittende in ’n motor, is LMSi besorg oor alle padgebruikers se veiligheid.
“Ons het vir die leerders gevra wat is die eerste reël wanneer ’n mens in ’n motor klim, en dit lyk darem of almal weet dat ’n veiligheidsgordel dadelik aangesit moet word. Dit klink of die ouers van hierdie skool baie streng is oor hierdie reël en dis natuurlik nie net goed om die wet na te kom nie, maar dis van die uiterste belang vir veiligheid.”


Hy sê ongelukkig blyk dit dat die leerders se ouers gereeld op hulle selfone besig is terwyl hulle bestuur.
“Dit stem ooreen met ons ervarings as motorfietsryers. Natuurlik bedoel ons nie dat die ouers van Laerskool Laeveld die enigste sondebokke is nie. Dit is ’n baie algemene probleem met motoriste in ons land.

“Ons het die leerders gevra om asseblief vir hulle ouers te sê om nie hulle selfone te gebruik terwyl hulle bestuur nie. Ons hoop die ouers aanvaar die versoek in die gees wat ons dit rig.”
Hy sê ’n baie groot gevaar in veral Nelspruit is dat baie motoriste voel ’n rooi verkeerslig beteken nie dat jy dadelik moet stop nie.
“Daarom het ons daaroor ook met die leerders gepraat. Hulle verstaan wat die drie ligte beteken en ons het gevra dat hulle ook hulle ouers daaraan sal herinner as dit lyk of hulle versnel in plaas van om te stop.”
Du Plessis sê dat Daantjie Kat destyds vir die kinders geleer het hoe om oor die pad te stap.
“Ons het dit vir hulle verduidelik hoe om dit veilig te doen en ons hoop dit maak hulle veiliger padgebruikers.”
Du Plessis sê dat LMSi baie graag by skole oor padveiligheid sal gesels en nooi alle skole uit om met LMSi in verbinding te tree. Stuur ’n e-pos aan info@lmsi.co.za.