Sunday, 21 July, 2024

|

Laeveldse GrootWit stuur opponent met skouspelagtige kragklap planke toe

Die naam GrootWit het onlangs weergalm in Nelspruit toe Jaco Marneweck met ’n reuse-klap sy opponent planke toe gestuur het in ’n Punisher Slapfight-titelgeveg by Mustangs in Nelspruit.

Jaco Marneweck, ook bekend as “GrootWit”, is ’n gebore Laevelder wat in Witrivier grootgeword het en nog steeds daar woon. Hy werk in die mynbedryf en beoefen die nuwe, effens vreemde, sport van kragklap – beter bekend in Engels as slap fighting – vir die afgelope sowat twee jaar.

Martin “Iceman” Gerber en Jaco “GrootWit” Marnewick met die titelgordel na afloop van hule kragklapgeveg in die super-swaargewigafdeling.

Die hoofgeveg by Mustangs, aangebied deur Punisher Slapfight Promotions, was die eerste nasionale titelgeveg in die super-swaargewigafdeling. Daarvoor moet ’n deelnemer ten minste 130kg weeg. Sy opponent was die ervare Martin Gerber, beter bekend as Iceman.

Jaco was baie optimisties oor die geveg: “Die titel kom Laeveld toe,” het hy ’n paar weke voor die geveg voorspel.

Al die foto’s is verskaf deur Kaptured Concepts.

“Ek het sy klappe geëet soos mieliepap in die oggend.

Jaco “GrootWit” Marneweck

Die reëls is amper so vreemd soos die sport. Deur ’n muntstuk in die lug op te skiet, word bepaal wie eerste gaan klap. Na ’n klap het die ontvanger 60 sekondes om te herstel, waarna dit sy beurt is om ’n klap uit te deel.

Deelnemers mag nie koes nie – nie eers ’n klein bietjie nie. ’n Koes, of “flinch”, beteken ’n punt vir die opponent. Die klapper mag ook nie sy voete optel tydens ’n klap nie. Albei sy voete moet plat op die grond bly, anders is daar ook ’n punt teen hom.

Die klap moet ook presies reg op die ontvanger se wang land om te voorkom dat die hou net op die kakebeen land. Die klappers se hande word in kalk gedruk voor die klap, sodat die skeidsregter na die tyd presies kan sien waar die klap geland het.

‘n Foto van al die vegters voor die klappe begin reën het.

’n Geveg bestaan uit drie klappe elk. As albei dan nog staan, wen die een met die minste strafpunte. As die klappers eweveel strafpunte het, is daar ’n valbyl-rondte wat elkeen nog ’n kans gee om sy opponent letterlik plat te klap.

In die hoofgeveg tussen Jaco en Iceman het Iceman die opskiet van die munt verloor en Jaco het eerste geklap. Dit was hard genoeg om ’n jong boom te ontwortel, maar Iceman was nog stewig op sy voete. Iceman se eerste klap het het nie veel van ’n indruk gemaak op die plaaslike held nie en hy was dadelik gereed om sy tweede klap te gee. Iceman het bly staan en sy tweede klap het ook nie juis vir Jaco geskud nie.

“Ek het sy klappe geëet soos mieliepap in die oggend,” sê Jaco.

Jaco “GrootWit” Marnewick luister na die verduideliking van reëls om al die klappers so veilig as moontlik te hou.

Dit was ’n voorreg om die titelgeveg hier in die Laeveld met ’n uitklophou te kon wen en so die eerste super-swaargewigkampioen in die land te kon word.

Jaco “GrootWit” Marneweck

Toe was dit tyd vir die laaste rondte, en hierdie keer het Jaco se klap Iceman se knieë laat ingee. Die groot Iceman het omgeval en moes gelawe word voor hy weer kon opstaan.

“Ek het vertrou op my ervaring en my emosies, en hom platgeslaan.”

Die gehoor was netso opgewonde en tevrede soos Jaco, die nuwe super-swaargewigkampioen.

“Dit was ’n voorreg om die titelgeveg hier in die Laeveld met ’n uitklophou te kon wen en so die eerste super-swaargewigkampioen in die land te kon word. Ek is dankbaar vir die hulp en bystand van Bobby en Nadine van Punisher Slapfight Promotions. Ek is baie trots om in hulle span te wees en sien uit na ’n groot toekoms,” sê hy.

Jaco gaan sy titel verdedig teen Herme “Kierie” Visser, maar die datum is nog nie bekend nie.

Bobby “Punisher” Krisch is waarskynlik tans die suksesvolste kragklapper in die land, met ’n rekord van sewe gevegte gewen en geen verloor nie. Hy is ook die eienaar van Punisher Slapfight Promotions wat die titelgeveg hier aangebied het.

Bobby “Punisher” Krisch, eienaar van Punisher Slapfight Promotions wat die aand gereël het, demonstreer hier hoe ‘n wettige klap lyk.

“Jaco het alles in die titelgeveg reg gedoen, ook ten opsigte van die reëls,” sê Bobby. “Ek is baie trots op hom, nie net as die promotor nie, maar ook as vegter – respect! In sy kort loopbaan van net twee gevegte, het hy een van die groot manne platgeslaan, nogal een met ’n baie goeie rekord.”

Hy dink GrootWit het definitief ’n groot toekoms in die sport.

“Hy sal ver gaan met die regte opleiding en tegniek, en ek gaan hom daarmee help. GrootWit gaan ver kom in die wêreld van kragklap – hy kan ’n hou vat! Ons hoop hy gaan uitgenooi word om in Amerika te gaan deelneem in die Powerslap-reeks,” sê die man wat ook in sy swaargewiggeveg sy opponent Eric “Mieliepap” Nkosi platgeklap het.

Daar was 11 gevegte daardie aand, en die uitslae lyk soos volg:

  • Super-swaargewig: Wikus “Cupcake” Ludick klop Hendrik “Vetseun” Potgieter
  • Swaargewig: Shaun Scheepers klop Naas “Tinkerbell” Richardson
  • Swaargewig: Luan “Pote” van Zyl klop Johan “Looselaw” Jansen van Vuuren
  • Liggewig: Mark “Wolverine” Phillipson klop Ockert “Super Charger” Grobler
  • Weltergewig: Gary “Cracker” Burrow klop Wessel “Da Silencer” Bronkhorst
  • Lig-swaargewig: Armand “The Butcher” Marnitz klop Juan “Piston” Jansen van Vuuren met ’n uitklophou
  • Lig-swaargewig: Pieter “Lapua” Viljoen klop Matthew “Irish Power” O’Connor met ’n uitklophou
  • Liggewig: Mike “Viking Mike” van Tonder klop Chris “Dynamite” Steenkamp met ’n tegniese uitklophou
  • Swaargewig: Terence “Supra” Labuschagne klop Dorian “Demolisher” Jooste met ’n tegniese uitklophou
  • Swaargewig: Bobby “Punisher” Krisch klop Eric “Mieliepap” Nkosi met ’n uitklophou
  • Super-swaargewig: Jaco “GrootWit” Marneweck klop Martin “Iceman” Gerber met ’n uitklophou

Leave a Reply