Sunday, 21 July, 2024

|

Laevelder aangewys as Mpumalanga se Jongboer van die Jaar

Soos in 2022, is ’n Laevelder vanjaar weer aangewys as Mpumalanga se Jongboer van die Jaar in die jaarlikse Toyota SA-AgriSA Jongboerkompetisie.

Kobus Pieters van Big5Mac in die Sabieriviervallei boer maar van 2012 af met makadamias en het in net meer as 10 jaar gevorder van iemand wat ’n kans gevat het met 13 hektaar se makadamias tot ’n suksesvolle boer wat 133 hektaar makadamias verbou, en ook self verwerk, verpak en uitvoer.

Org Lindeque, ook ’n Laevelder wat met makadamias boer, is in 2023 aangewys as die Mpumalanga-finalis vir die Toyota SA-AgriSA Jongboer van die jaar-kompetisie.

Kobus het in Hazyview groot geword in ’n gesin van entrepreneurs – sy ouers besit die Shell-vulstasie in Hazyview al vir jare. Hy het in 2005 gematrikuleer aan Hoërskool Nelspruit. Na skool het hy sakebestuur met ’n fokus op gholfbestuur studeer en is Kaap toe om daar te begin werk.

Soos in 2022, is ’n Laevelder vanjaar weer aangewys as Mpumalanga se Jongboer van die Jaar in die jaarlikse Toyota SA-AgriSA Jongboerkompetisie.
Lion du Plessis, president van AgriMP, Lyndie Pieters, Kobus Pieters, en Robert Davel, uitvoerende bestuurder van AgriMP, met die toekenning van AgriMP se Jongboer van die Jaar vir 2024.

In 2011 was hy die Umhlali-buiteklub buite Ballito in KwaZulu-Natal se hoofberoepspeler (“golf pro”) toe sy ouers hom gevra het om terug te trek Hazyview toe en betrokke te raak in die familie-onderneming.

“Daar is nie boere in my familie nie, maar al my vriende van skooldae af boer,” sê Kobus. “Ek het ’n groot kans gewaag en in 2012 saam met my oom ’n plaas met 13 hektaar makadamias naby Da Gamadam gekoop. Nie almal het gedink dit was ’n goeie plan nie, want die plaas was verwaarloos en nie baie goed beplan nie. Maar ek was positief dat die bestaande makadamiabome ’n goeie begin was.”

Hy sê hy het baie raad gevra en navorsing gedoen oor die beste boerderymetodes om te leer hoe om die boerdery te bestuur.

“Ons het in 2013 ons eerste plaas in die Sabieriviervallei gekoop en het die plaas naby die dam in 2015 verkoop. Ons het aanvanklik met suurlemoene, gemmer en groente soos botterskorsies geboer om kapitaal te bou tot die nuwe makadamia-aanplantings geoes kon word. En nou het ons 133 hektaar onder makadamias.”

Soos alle groot makadamiaprodusente, voer Big5Mac die meeste van hulle produksie uit. 

In 2023 het Kobus besluit om self te begin uitvoer in plaas van om aan ander uitvoerders te verskaf. Hy het saam met vier ander boere en Bester Fruit & Nuts, ’n maatskappy wat reeds pekanneute uitvoer, saamgespan om Big5Nut op die been te bring.

“Om te kan uitvoer moes ons ’n behoorlike verwerkingsaanleg bou,” vertel hy.

Soos in 2022, is ’n Laevelder vanjaar weer aangewys as Mpumalanga se Jongboer van die Jaar in die jaarlikse Toyota SA-AgriSA Jongboerkompetisie.
Die verwerkingsaanleg waar tot 40 ander boerderye se makadamias geklassifiseer, gedroog en verpak word vir uitvoer.

Aan die einde van 2023 was die verwerkingsaanleg gereed en vandag word nie net Big5Mac se neute daar gedroog, geklassifiseer en verpak vir uitvoer nie, maar ook die makadamias van 40 ander boere.

Soos in 2022, is ’n Laevelder vanjaar weer aangewys as Mpumalanga se Jongboer van die Jaar in die jaarlikse Toyota SA-AgriSA Jongboerkompetisie.
Kobus Pieters, Gertroude Mnisi en Nicole Pretorius, gehaltebestuurder, in die Big5Nut-laboratorium waar makadamias deeglik geklassifiseer word voor dit gedroog en verpak word vir uitvoer..

“Ons verwag om vanjaar sowat 2 500 ton makadamias uit te voer,” sê Kobus. “Ons voer tans grotendeels na die Ooste uit, maar is ook besig om die Amerikaanse mark te ontgin. As daardie mark ontwikkeld is, sal ons beter bedingingsmag te hê met nog ’n nuwe afsetgebied.”

Soos in 2022, is ’n Laevelder vanjaar weer aangewys as Mpumalanga se Jongboer van die Jaar in die jaarlikse Toyota SA-AgriSA Jongboerkompetisie.
Kobus Pieters in Big5Nut se klimaatbeheerde droogkamer, deel van die verwerkingsaanleg.

Hoekom dink Kobus is hy aangewys as Mpumalanga se Jongboer van die Jaar?

“Ek weet regtig nie,” sê hy. “Ek het ingeskryf omdat ek graag die ervaring en die blootstelling wou hê. Ek gryp ook elke geleentheid om meer te kan leer aan.”

Inskrywings is beoordeel deur Stoffel Coetzer, Ben Greyling, Johann Weber en Robert Davel, uitvoerende bestuurder van AgriMP. Die kandidate is beoordeel op verkillende aspekte van hulle boerdery: administrasie, begrotings en rekordhouding; produksiebestuur; bemarkingspraktyke; onderhoudprogram; bestuur van arbeid; en die langtermyn volhoubaarheid van die boerdery.

Kobus sê hy het ook geen idee van sy kanse in die nasionale been van die kompetisie nie.

“Ek ken glad nie my kompetisie nie en ek weet nie wat hulle al gedoen het nie. Ek sal hulle eers die aand met die aankondiging van die wenner ontmoet.”

Hy sê hy is dankbaar vir Mpumalanga Landbou se ondersteuning.

“Hulle is baie aktief en altyd gereed om ons te help. Tannie Charlotte van Leeuwen by die Kiepersol Boerevereniging is veral behulpsaam en altyd beskikbaar.”

Kobus is getroud met sy skoolliefde, Lyndie.

“Ons ken mekaar al van graad 9 af,” sê hy. “Ons het twee kinders – Jaco is 11 en Lynka is 9.”

Kobus en Lyndie bedryf ook ’n gastehuis en AirBnB op een van Big5Mac se plase. Linvale Country Lodge bied luukse verblyf aan vir tot 20 gaste.

Leave a Reply