Kuns by Innibos kom byeen in die Liedjiebos
Die veelsydige musikant Lizanne Barnard staan onder meer met die dirigentstokkie van die Laeveld Gemeenskapsorkes in die hand, maar tans “dirigeer” sy die vertoning Kuns inni Liedjiebos vir vanjaar se Innibos-kunstefees.
Kuns inni Liedjiebos omvat ’n wye verskeidenheid kunsvorme, van woord- en beeldende kuns tot musiek en dans. Die wegspringplek was om mense te vra om gedigte in te stuur waaruit Lizanne musiek kon maak, maar in ’n verdere stap is van dié gedigte ook gegee aan beeldende kunstenaars om fisiek gestalte te gee aan daardie digwoorde.
ALSO READ: Renowned local musicians join SA stars on Innibos opera stage
“Jong, ek het eendag na 100.5FM geluister en besef as dít die musiek is waarna Laevelders luister sal ek vinnig my sokkies moet optrek!” vertel Lizanne. “Die program van Liedjiebos spreek van ’n wye verskeidenheid. Dit gaan pret en visueel sterk wees. Dit was belangrik dat dit nie slegs my eie styl is nie, daarom het ek instrumentasie ingebring wat elke liedjie tot sy reg sal laat kom in die wye verskeidenheid van genres wat daar is.”

Lizanne glo daarin om haar met talent te omring. Saam met haar is van die musikante onder andere Adam Helberg, Vinnie Henrico op tromme (“hy is só veelsydig, vergeet van doem-tjiek-doem-tjiek!”) en Jahn Beukes, saam met wie sy in die verlede ook gewerk het aan die verhoogstuk Uit die bloute. “Jahn is baie goed daarmee om ’n ligte kant in te bring. Hy laat mense lag.”
Saam met die professionele musikante, wat sanger Jan Blohm as gaskunstenaar insluit, span Lizanne verskeie Laeveldse kreatiewe geeste in vir sowel die musiek as vir die beeldende kuns. Germandt Geldenhuys gaan ’n gedig voorlees wat in dans geïnterpreteer gaan word. Hy sing ook ‘n duet saam met Lizanne in hierdie veelsydige produksie.
LEES OOK: Laeveld skud sy vere reg vir groot Innibos
Ilona Petzer is die kurator wat die kunswerke byeenbring. Lizanne vertel dit was opwindend om te sien watter gedigte deur die onderskeie visuele kunstenaars gekies is om uit te beeld.
“Om inspirasie deur ’n gedig te kry, is nie alledaags nie. Nie alle gedigte was geskik as liedjiemateriaal nie, maar het dan beslis daardie ‘iets’ gehad wat lei tot ’n visuele skepping.”
Onder die visuele kunstenaars is Ilona self, asook Anton en Hanlie Bosch, Esra Bosch, Mariana Zwaan, Winston Thekiso, Erica Schoeman en Carel de Beer.
Lizanne het self ook haar hand aan ’n skilderstuk én ’n beeldhouwerk gewaag.
“Die skilderstuk is van ’n gedig wat ek vir wyle regisseur Gerrit Schoonhoven geskryf het om hom moed in te praat op sy sterfbed. Hy het ons altyd aangemoedig met die woorde ‘die lewe is kort, wees briljant’. Dit het in my kop vasgesteek, en ek gebruik dit nou wanneer die Laeveld Gemeenskapsorkes optree.
Sy benadruk dat Kuns inni Liedjiebos nie moontlik sou wees sonder die ruim ondersteuning uit die gemeenskap nie.
“Christie’s is ’n lieflike venue waar die kuns tot hul reg sal kom, terwyl Carien Craig van Canary Walk Mall se entoesiastiese bydrae en borgskap ook gelei het daartoe dat deur ’n skoolprojek werklik die gemeenskap betrokke gekry het.”
Kuns inni Liedjiebos is op Vrydag, 30 Junie, om 18:00 by Christie’s at 32 on Russell en kaartjies kos R300 en sluit die musiekvertoning, kunsuitstalling en ’n vingerete in.
Vir die volledige Innibos-program en skakels na die kaartjieverkope, gaan na innibos.co.za. Kaartjies is te koop by Computicket, en ook by die nuwe Innibos-kantoor op die hoek van De Villiers- en Anneckestraat by Sonpark-sentrum in Mbombela.