Toyota Innibos 2025: Vier alles lekker in die hart van die Laeveld

Dis amper weer tyd om al wat lekker is by die Toyota Innibos te vier.

by | May 5, 2025 | 0 comments

Die gewilde fees vind vanjaar van 3 tot 6 Julie plaas en vier sy 21ste bestaansjaar saam met die 100-jarige taalviering van Afrikaans.

Volgens Sandra Jacobs, bemarkingsdirekteur van die fees, is die tema vanjaar “Lekker”.

LEES OOK: Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees kondig nuwe hoofborg aan

“Toyota Innibos is meer as net nóg fees op die kalender – dit is ’n instelling waar jou sintuie en ervarings op alle vlakke lekker bederf word. Ons vereer vanjaar vir Kurt Darren vir sy jarelange bydrae tot die Afrikaanse musiekwêreld. Sy stem en liedjies is verweef met soveel van ons herinneringe – van sokkiesale tot stadionkonserte.”

Toyota Innibos
Die Beste Band in die Wêreld Ooit, Ek Sweer, met Rikus de Beer, Ryno Velvet en Regardt Scheepers.

Die hoofverhoog gaan elke aand uitsonderlik wees. Woensdagaand se Huisgenoot Afskopkonsert begin op ’n hoogtepunt met groot name soos Appel, Droomsindroom, Eloff en Francois van Coke. Vrydag neem Jacaranda FM die leisels oor met ’n aand wat beloof om net so onvergeetlik te wees, met kunstenaars soos Bernice West, Bok van Blerk, Die Heuwels Fantasties en Robbie Wessels wat die verhoog deel. Saterdag se kykNET-konsert gaan ook ’n spogvertoning wees met Corlea Botha, Early B, Justin Vega, Elvis Blue, Demi-Lee Moore en die immergewilde Piesangskille.

LEES OOK: Laeveld skud sy vere reg vir Innibos se propvol toneel- en musiekprogram

Volgens Adelene Niehaus, Toyota Innibos se programkoördineerder, bied vanjaar se Innibos iets vir almal – van klassieke musiekliefhebbers tot gesinne wat net saam wil kuier en ontspan.

Die vier unieke kuierverhoë op die feesterrein gee gehore die geleentheid om op ’n meer intieme manier na sangers te kan luister. Nog ’n venue om te besoek is die Laevelder Boma-kuierteater waar persoonlikhede soos Wynand van Vollenstee, Mel die Storieverteller, Matie van Graan en Hannon stories, vertellings en grappe in ware Innibos-styl sal deel.

Toyota Innibos
By die Meesters-aanbieding word 100 jaar van Pinotage en Afrikaans gevier. Van links is: Beyers Truter, Johan Rademan en Christo Snyman.

RSG gaan ook regstreeks van die feesterrein af uitsaai.

Feesgangers kan uitsien na uitstaande kos- en ander stalletjies in die Bosmôl met daaglikse spesiale aanbiedinge vir 21 minute om 11:00 en 16:00 ter viering van Innibos se 21ste verjaarsdag. 

Toyota Innibos
Francois van Coke.

Die keuse van produksies is vanjaar ook iets om na uit te sien. Volgens Philna Scholtz, programbestuurder, kan teaterliefhebbers uitsien na verskeie debuut-produksies: Seun, met Wilhelm van der Walt, Kry vir jou ’n tux, Thomas, met Dean-John Smith en Marion Holm in die rolverdeling en Geagte Kampeerder, met Wynand van Vollenstee en Thiart Li. Produksies soos Speelgoed van Glas met die ikoniese Anna-Mart van der Merwe, en Moord met ’n T, met die legendariese Tobie Cronjé, is ook ’n moet-sien. Op die musiekfront is daar produksies soos OperaTango met Zanne Stapelberg, Gé Sing: Hoor my Lied met André Schwartz, Louis Loock, Stephanie Baartman en Arina de Witt, en Die Beste Band in die Wêreld Ooit, Ek Sweer, met Rikus de Beer, Ryno Velvet en Regardt Scheepers wat verder bydra tot ’n indrukwekkende musiekaanbod.

Toyoya Innibos
Demi-Lee Moore.

Een van die grootste gunstelinge onder feesgangers is sonder twyfel die ATKV Boekecrawl, en vanjaar gaan nie teleurstel nie. Hierdie unieke literêre reis bied ’n ervaring wat jy nie mag mis nie. Susan Coetzer, die akoestiese duo Jack & June, die gewilde Elvis Blue, Anna-Mart van der Merwe, Frazer en Deniel Barry, en Johny Klein, is almal meesters in hul veld wat letterkunde en musiek lewe gee.

Die leefstylaanbod van Toyota Innibos 2025 weerspieël die lekkerness van die Laeveld op sy beste. By die Meesters-aanbieding word 100 jaar van Pinotage en Afrikaans gevier, terwyl Skilder en wyn met Hannelie Swart ’n kreatiewe en smaaklike ervaring bied. Die Komati Fruit-plaasbesoek by Crocodile River Estates gee besoekers ’n blik op die plaaslewe, en ’n unieke langtafel-ervaring, iewers diep in die Laeveld, wag op die kieskeurige fynproewer.

LEES OOK: LEKKER cherry on the Innibos cake

Op die front van visuele kuns bied Dana MacFarlane en haar span by die Innibos-feesterrein ’n indrukwekkende groepuitstalling aan. Werke van Odette Powell, Winston Thekiso, Odette Saayman, Mariana Zwaan de Bruin, Erica Schoeman en Lisa Tristram sal onder andere hier te sien wees in verskeie mediums soos skilderkuns, beeldhouwerk en keramiek.

“Dit is vir Toyota Innibos ’n groot eer om Reuben Mpangane as die feeskunstenaar vir 2025 aan te kondig. Hy gaan sy kleurvolle en ryk getekstureerde kunswerke by White River Gallery in Casterbridge uitstal. Dana Macfarlane is die kurator van beide die uitstallings,” sê Jacobs.

Besoek die Innibos-webwerf vir volledige programbesonderhede, kaartjieverkope en ander inligting. Kom beleef die lekkerness van Toyota Innibos 2025 – waar taal, kultuur en samesyn mekaar ontmoet.

Kaartjies vir die Innibos-feesterrein is reeds op Ticketpro beskikbaar.

Our Picks

Browse categories

We are social

– Advertisement –