Monday, 6 February, 2023

|
innibos fees nelspruit mbombela

Innibos is terug met ’n vars fees

Die immergewilde Innibos-fees is vanjaar vanaf 29 Junie tot 2 Julie terug in sy volle glorie nadat die fees vir drie jaar die knie moes buig voor die Covid-pandemie.

Die tema is “Vars” en die organiseerders beloof ’n fees wat nie gou vergeet sal word nie.  

Die sangers vir die hoofverhoog is reeds gefinaliseer en die publiek kan uitsien na groot name soos Appel, Bok van Blerk, Francois van Coke, Riana Nel, Brendan Peyper, Droomsindroom, Emo Adams, Robbie Wessels, Spoegwolf, Bernice West, Corlea Botha, Demi Lee Moore, Early B, Elvis Blue, Jo Black, Refentse, Riaan Benadé, Ricus Nel, Ruhan du Toit, Sunset Sweatshop en vele meer.

Die feesterrein is weer by Bergvlam Hoërskool, en teater en ander aanbiedings sal in die stadsteater, skoolsale en venues in en om Nelspruit aangebied word.

Behalwe vir die Bosmall met sy talle uitstallers van handgemaakte produkte beplan Innibos ook ʼn splinternuwe kuiertuin, Die Wingerd, op die feesterrein waar daar mooi musiek, wynproë, demonstrasies en vele meer gaan plaasvind, en waar feesgangers verskeie landgoedere en boetiek-distilleerders se wyn en gin sal kan proe. 

Vir die eerste keer gaan daar ook talle buskers by die feesterrein optree om ʼn feestelike atmosfeer te skep en die kinderarea, Woelwaters, gaan sorg vir genoeg pret en plesier vir die kleinspan.

Feesgangers kan hulle ook regmaak vir ʼn klomp nuwe produksies wat in verskeie venues in die stad aangebied gaan word wat dramas, komedies, musiekteater en selfs ʼn opera insluit.

Besoekers aan die Laeveld kan solank met Kruger Lowveld Chamber of Business and Tourism (KLCBT) se toerismekantoor skakel (013 755 1988) om verblyf vir die feestydperk te verseker.

Leave a Reply