Innibos 2023 is weer pure fees
Die organiseerders van Innibos sien daarna uit om eindelik weer ’n volwaardige kunstefees in Mbombela aan te bied nadat Covid-regulasies die vorige twee se feestelikhede gekortwiek het.
Die feesdatum is 29 Junie tot 2 Julie en oudergewoonte is die feesterrein by Hoërskool Bergvlam in die stad.
“Dit is twee uitdagende jare wat agter die rug is, maar ons het steeds bly woeker deur talle kort projekte, soos huiskonserte, boekbekendstellings en ’n buitelugfees, aan te pak,” sê Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos. “Die tema vir vanjaar se kunstefees is ‘Vars’ wat ons opgewondenheid weerspieël om opnuut vermaak en die kunste na die Laeveld te bring.”
LEES OOK: Innibos bied heerlike gesinspret by Buitelug Familiefees
Musiek is steeds een van die grootste trekpleisters, en die baie gewilde hoofverhoogkonserte is reeds gefinaliseer. Die room van Afrikaanse musiekkunstenaars, waaronder Appel, Bok van Blerk, Francois van Coke, Spoegwolf, Bernice West, Droomsindroom, Sunset Sweatshop en Elvis Blue, sal op dié verhoog te sien wees.
Andy Lubbe, feesdirekteur, sê dié konserte bied uitstekende waarde vir geld.
“Die feesterrein se toegangskaartjies sluit ’n vol dag se vermaak, sowel as ’n konsert van topgehalte in die aand in. Ons weet almal moet die rieme dun sny, maar net so moet die gemoedere gelig word.”
LEES OOK: “Goddank vir klank” saam met Innibos by RSG-radiodramaslypskool
Splinternuut op die feesterrein is die Wingerd in die kunspark. Feesgangers sal wyn van verskillende landgoedere kan proe (en koop). Met gemaklike kuiertafels, kunsstalletjies, kos-demonstrasies en rustige musiek sal dit ’n ware oase vir asemskep wees.
Aan die toneelfront is daar Sandra Prinsloo (Kamphoer), Margitte Meyer-Rödenbeck en Marion Holm (Laerskool Noord), en Desiree Gardner in Magda Louw, ’n verhoogverwerking van die huidige televisiereeks. Rudi van Rensburg se onnutsige Hans (Charlie Bouguegon) sal weer vir ligte oomblikke sorg in Hans gee Herklaas horings.
Feesterreinkaartjies sal vroeg reeds te koop wees sodat Innibos-feesgangers genoeg tyd het om hul vermaakbegroting te laat klop.
Aansoeke vir optredes op die sogenaamde kuierverhoë, waar uitsluitlik opkomende kunstenaars gewoonlik optree, kan nog tot 31 Januarie ingedien word.
Aansoeke vir stalletjies in die Bosmôl word ook steeds aanvaar. Eiesoortige en handgemaakte produkte sal voorkeur geniet. Aansoekvorms in beide gevalle kan afgelaai op die webwerf by innibos.co.za/aansoeke.
Om op hoogte te bly van feesnuus, teken in op die Tjirp-nuusbrief deur ’n e-pos te stuur aan annemarie@innibos.co.za.
[…] ALSO READ: Innibos 2023 is weer pure fees […]