Grace Baby Haven hou gholfdag om vir verwerpte babas te sorg
Grace Baby Haven in Nelspruit bied op Vrydag, 29 September, ’n gholfdag by die Mbombela gholfklub aan om geld in te samel om na verwerpte babas om te sien.
Om genoeg geld in te samel om aan al die behoeftes van die babas – hulle kyk op die oomblik na vier – om te sien is ’n voortdurende uitdaging en daar word gereeld fondsinsamelings gehou om al die gate toe te stop.
In die sowat 19 maande wat Justin en Ané Grobbler nou al die huis vir verwerpte babas bedryf het hulle al na ’n totaal van 19 babas omgesien. Hulle kyk ook nou na ’n tienerseun wat vir twee jaar in hulle sorg geplaas is. Hulle het ook hulle eie dogtertjie, Jaimie, wat tien jaar oud is.

Die gemeenskap van die Laeveld was tot dusver baie goed vir ons en ons het soveel hulp en skenkings van oral ontvang
Justin Grobbler.
Die besluit om na verwerpte babas om te sien was vir Justin en Ané Grobbler ’n baie persoonlike een. Ná drie miskrame hulle besluit om hulle eie hartseer ervarings te gebruik om ander te help. Grace Baby Haven is ’n geregistreerde nie-winsgewende organisasie en die babas wat by hulle geplaas word woon saam met hulle in hul eie huis en word deel van hulle gesin.
“Ons het ervaar hoe terapeuties dit kan wees en hoe dit ons gehelp het om ons eie seer te verwerk. Daarom stel ons ook Grace Baby Haven oop vir vrywilligers wat ons wil kom help om na die babas te kyk, al is dit net om ’n baba te kom bad of kos te gee. Ons weet hoeveel verskil dit in ons lewens gemaak het,” sê Ané.

Daar is elke jaar dosyne verwerpte babas in Nelsprut wat hulp nodig het, sê Justin.
“Ons werk saam met Kinderwelsyn en ander organisasies in Nelspruit om seker te maak dat ons aan alle wetlike vereistes voldoen wanneer babas by ons geplaas word. Die babas bly by ons totdat hulle by aanneemouers geplaas kan word,” sê Justin.
“Die gemeenskap van die Laeveld was tot dusver baie goed vir ons en ons het soveel hulp en skenkings van oral ontvang,” sê hulle.
Die belangrikste ding op hul wenslys is ’n bussie waarmee hulle al die babas kan vervoer as hulle dokter of hof toe moet gaan. Dan is dit maar die gewone goed soos doeke, melk en klere.
“Ons is bereid om hande te vat met enige organisasie wat ons kan help en by wie ons kan leer,” sê Justin.
Om deel te neem aan die gholfdag kos R2 000 vir ’n vierbal en daar is ook geleenthede vir borge.
Vir meer inligting, skakal Justin by 073 877 7863.