Gemeenskap werk saam om Loki met sy gesin te herenig
Die storie van die Nelspruitse hond Loki het ’n gelukkige einde gehad toe hy na ’n soektog van amper vier dae met sy gesin herenig is.
Loki, ’n jong Weimaraner-kruis, het waarskynlik op Dinsdag, 15 Augustus, by die hek van sy huis in Kwartzstraat in West Acres uitgehardloop toe sy eienaar, Johanita Badenhorst, omstreeks 20:00 by die huis aangekom het na ’n netbaloefening.
“Ons het eers Woensdagoggend agtergekom hy is weg en het ons dadelik tot sosiale media gewend in ’n poging om hom op te spoor. Ons het ook die strate rondom ons huis platgery om te kyk of ons hom nie iewers gewaar nie,” sê Johanita.
Maar Loki het sy naam, wat beteken Trickster God, gestand gedoen en hulle kon hom nêrens kry nie.
“Die Donderdag het ons ’n oproep gekry dat hy op die ringpad naby Mataffin gesien is en in die bosse net na die groot sirkel op die N4 ingehardloop het.
Johanita het onmiddellik gereageer en op die ringpad na hom gaan soek.

Techno Security Force was fantasties. Ons is nie eens hulle kliënte nie, maar hulle het onmiddellik ingespring. Hulle kon Loki ook nie naby die ringpad kry nie en het kos uitgesit om hom te probeer lok.
Johanita Badenhorst
“In een stadium het hy reg voor my kar verbygehardloop, weer terug in die bosse in. Ek het probeer, maar kon hom nie opspoor nie.”
Sy het toe die plaaslike sekuriteitsmaatskappy Techno Security Force gekontak om hulle te help soek.
“Hulle was fantasties. Ons is nie eens hulle kliënte nie, maar hulle het onmiddellik ingespring. Hulle kon Loki ook nie naby die ringpad kry nie en het kos uitgesit om hom te probeer lok.”
Vrydag het Johanita weer ’n oproep ontvang van iemand wat hom by MAN Trucks net buite Nelspruit op die R104 gesien het. Later is hy in Kwartz- en Granietstraat opgemerk.
Op die ou end is hy later in die dag in Onyxstraat gekry.
“Die verliging toe ons hom weer by die huis kon hê was groot. Ons het hom verskriklik gemis. Hy was moeg en uitgeteer en sy voete was baie seer. Maar hy was gou weer sy ou self en is nog net so energiek en woellig soos wat hy altyd was,” sê sy.
“Ek is baie dankbaar vir al die hulp wat ons van die gemeenskap gekry het om Loki weer veilig by die huis te kry. Ek wil veral baie dankie sê vir Techno Security Force en hul operasionele bestuurder, Marelize Burger, wat so baie gedoen het om ons te help. Dis heerlik om weer vir Loki by die huis te hê.”