Drie weke en 7 000km op ’n motorfiets om siek kinders te help
Pediatric Care Africa se jaarlikse motorfietsrit om geld in te samel vir kinders wat mediese sorg nodig het spring vanjaar op 12 Februarie uit Witrivier weg.
Die rit van 7 000km sluit die mees noordelike, suidelike, oostelike en westelike punte in Suid-Afrika wat per padfiets bereikbaar is in en dit is die vierde keer dat dié organisasie die rit aanpak.
Die doel van dié rit is om geld in te samel vir ’n veldtog om 1 000 operasies vir 1 000 kinders te kan betaal, asook om bewustheid te verhoog van die nood van kinders wat operasies en mediese behandeling nodig het, maar dit eenvoudig nie kan bekostig nie.

Dr. André Hattingh, stigter en uitvoerende hoof van Pediatric Care Africa, ’n ondersteuningsvoertuig en verskeie motorfietsryers en -klubs, vertrek om 9:00 vanaf White River Square in Witrivier en is op 4 Maart weer terug.
Tot op datum het dr. Hattingh reeds 21 000km op sy motorfiets afgelê om geld in te samel vir siek kinders. Aan die einde van vanjaar se rit sal die totale afstand op 28 000km staan wat oor 84 dae afgelê is. Voorwaar ’n merkwaardige prestasie vir ’n oupa!
Hy sal die hele roete met sy betroubare Harley-Davidson Road King ry en nooi motorfietsryers en motorfietsklubs regoor Suid-Afrika uit om enige plek op die roete by die groep aan te sluit om “vir ons kinders te ry”.
“Dit is nie hoe ver jy ry, of wat jy ry wat belangrik is nie; dit is om saam te staan en te wys dat ons kinders belangrik is,” sê hy. “Ons doel is om gedurende 2023 ten minste 45 kinders by te staan met operasies en 400 kinders te help met besoeke aan spesialiste.”
Pediatric Care Africa bestaan al sedert 2017 en het tot dusver meer as 2,2 miljoen maaltye en meer as 5 000 babasorgpakkies, wat uit babakos en doeke bestaan, uitgedeel. Sowat 5 895 persone het gratis mediese behandeling ontvang en 1 390 kinders is na algemene praktisyns en spesialiste geneem vir behandeling, waarvan meer as 100 reeds operasies ontvang het.
Hattingh doen ’n beroep op maatskappye en privaat persone om die rit te borg. Borgskapvorms is hier beskikbaar.