CMR vra dringend hulp met kos- en ander skenkings
CMR in Nelspruit ervaar tans ’n desperate tekort aan kos en moes oor die naweek drie gesinne wegwys wat die organisasie om hulp genader het.
Gewoonlik skenk CMR kospakkies aan tussen twintig en dertig gesinne per maand.
Die CMR – of Christelike Maatskaplike Raad – bestaan al van 1954 af in Mpumalanga en staan gemeenskappe op maatskaplike, emosionele en ekonomiese gebied by.
Volgens Thea Rix, voorsitter van CMR Nelspruit se raad, is daar baie mense in die Nelspruit-gemeenskap wat baie swaar kry en afhanklik is van skenkings om te oorleef.
“Ons sien elke dag hoe die nood al hoe groter word. Ons koskaste is leeg. Ons is afhanklik van die gemeenskap om te kan help. Ons is dankbaar vir elke skenking, al is dit hoe klein,” sê sy.
Sy moedig mense aan om liewer aan organisasies soos die CMR te skenk, omdat hulle die gemeenskap ken en weet waar die nood die grootste is. Baie organisasies werk ook saam om ’n groter impak te kan maak.
“Ons vra veral vir nie-bederfbare kos, omdat dit soms moelik is om vars produkte vinnig genoeg uit te deel voordat dit bederf. Maar alles is welkom – ook klere, toiletware en skoonmaakmiddels. Ons kan letterlik enigiets gebruik,” sê sy.
Voorbeeld van die kospakke wat die CMR aan gesinne oorhandig:
- Blikkies sousbone
- Blikkies vis
- Blikkies boeliebief
- Soppoeier
- Suiker
- Spaghetti
- Macaroni
- Mieliemeel
- Bruismeel
- Rys
- Olie
- Stampmielies
- Melk en poeiermelk
- Konfyt
- Grondboontjiebotter
- Teesakkies
- Sojamaalvleis
- Seep
- Tandepasta
- Toiletware
- Skottelgoedseep
- Sjampoe
Vir meer inligting, skakel Thea Rix by 082 771 2889.