Wednesday, 20 October, 2021

|

BMW red NHS-paartjie se matriekafskeid met glansmotor

Vir ’n paartjie van die Hoërskool Nelspruit het dinge amper lelik skeef geloop toe die motor waarmee hulle matriekafskeid toe sou ry nie meer beskikbaar was nie.

’n Matriekafskeid kan op die beste van tye ’n spanningsvolle affêre wees.

Vir die meisies gaan alles oor die rok en dat hy sal lyk soos die rok waaroor sy al droom vandag sy in graad agt is.

Vir die manne is die spanning nie so erg oor die klere nie, maar eerder die motor waarmee hy en sy metgesel gaan opdaag.

Dit het al ’n gewoonte geword dat die funksie afskop met ’n aankondiging van elke paartjie se aankoms en ’n verskyning op die rooi tapyt. Hoe – en veral waarmee – jy daar aankom, is van die uiterste belang.

Vir een paartjie van die Hoërskool Nelspruit het dinge amper lelik skeef geloop.

Cecil Kroucamp het gedink sy reëlings was afgehandel, maar Woensdagmiddag, die dag voor die groot aand, moes hy hoor die motor wat hom en sy metgesel, Ida Malan, na die glansgeleentheid sou vervoer, is nie meer beskikbaar nie.

Cecil se ma, wie se naam ook Ida is, kon sien hoe teleurgesteld haar seun was en het geweet sy moes net iets doen.

’n Oproep na myLOWVELD.net deur ’n gemeenskaplike vriend het die bal aan die rol gesit. En een oproep na Dylan Peterson, handelaarshoof van BMW Mbombela (vroeër bekend as Eastview BMW), en die paartjie se probleem was iets van die verlede. Hulle sou met ’n splinternuwe BMW M340i xDrive by die skool afgelaai word.

Die vuurwarm 3-reeks sedan het ’n turbo-aangejaagde 3-liter enjin, ’n topspoed wat elektronies beperk word tot 250km/h en versnel van 0 tot 100km/h in 4,4 sekondes. En as jou bankbestuurder saamstem, kan jy so ’n nuwe een in jou motorhuis trek vir R1 127 900.

Ida Kroucamp sê die kinders het die aand geniet.

“Hulle was baie verlig dat hulle nie met ‘Ma se taxi’ daar aangekom het nie! Baie dankie aan Dylan van BMW Mbombela, hy het ’n groot teleurstelling voorkom,” sê sy.

Cecil Kroucamp en Ida Malan voor die BMW waarmee hulle by Hoërskool Nelspruit se matriekafskeid afgelaai is.

Leave a Reply